Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SARL-NUUS - Sondag 27 JUNIE 2010

U luister na ZS6SRL, die amptelike radiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika, met 'n nuusbulletin wat elke Sondag om 08:15 SAT in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uitgesaai word. Oudio is ook beskikbaar via die internet by www.sarl.org.za. Klik op 'ARMI' en volg die skakels soos aangedui. Vir oudio via Echolink, koppel met ZS0JPL-R.

Hierdie en vorige bulletins kan van www.sarl.org.za afgelaai word en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.

U nuusleser is (naam en roepsein), op 145,725 MHz vanuit Pretoria, met herleidings op 10,130, 7,066 en 3,695 MHz ESB. (Ander nuuslesers verander soos toepaslik.)

In die nuus vandag:

MEI 2010 RAE-ROEPSEINE BESKIKBAAR GESTEL

RADIOTEGNOLOGIE-IN-AKSIE IN KAAPSTAD

DIE IARU SE INTERNASIONALE AMATEURRADIO-SATELLIETFORUM

ARRL WAARSKU TEEN E-POS BEDROGSPUL

U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir verdere inligting oor hierdie en ander belangrike en interessante nuus-items.

MEI 2010 RAE-ROEPSEINE BESKIKBAAR GESTEL

Die SARL kondig met genoë aan dat die lang wag vir roepseine verby is en dat dit nou op SARL se webblad beskikbaar is.

Klik op die skakel aan die linker-bokant van die bladsy www.sarl.org.za waar na die Mei 2010 RAE-uitslae verwys word en volg dan die aanwysings na die uitslagblad. Die SARL het met OKOSA ooreengekom dat u onmiddelik u roepsein kan gebruik en op die lug bedrywig kan raak.

Daar is egter nog ‘n aantal kandidate waarvan die dokumentasie onvolledig is. U roepsein kan nie beskikbaar gestel word alvorens die korrekte dokumente by SARL se kantore ontvang is nie. As daar ‘n kode langs u naam verskyn, dui dit die aard van die probleem aan en die SARL versoek u om aandag daaraan te gee - nie later as volgende Vrydag nie.

Ons sien met graagte uit daarna om eersdaags ‘n geselsie met u op die lug aan te knoop.

Geniet u roepsein en die stokperdjie. Onthou, u begin eintlik nou eers om ervaring op te doen en die stokperdjie tot sy volle omvang te geniet.

Indien u enige navrae het, rig dit aan Mariska na admin@sarl.org.za of per telefoon na 011 675 2393.

SUMBANDILASAT TERUG OP DIE LUG

SumbandilaSat is terug op die lug. Versoeke om met die satelliet kontak te maak terwyl dit in u omgewing is, moet gestuur word na saamsat@intekom.co.za teen Maandae vir moontlike insluiting in die skedule wat Donderdagaande/Vrydagoggende vrygestel word ten opsigte van die daaropvolgende week.

Dit is nie altyd moontlik om aan u versoeke te voldoen nie. Die weekskedule word op die webblad www.amsatsa.org.za geplaas. Suid-Afrikaanse stasies hoef nie hierdie versoeke te rig nie aangesien Allan Saul die vereiste skedulering sal doen terwyl SO67 oor Suidelike Afrika wentel.

Inaggenome die onlangse sagteware-veranderings, moet u daarop let dat die bedryfsprosedure ook verander het. Kry al die inligting by www.amsatsa.org.za.

RADIOTEGNOLOGIE-IN-AKSIE IN KAAPSTAD

Radiotegnologie-In-Aksie 2010 vind plaas in Kaapstad op 24 Julie in die Ouditorium van die Gencor-gebou op die Bellville-kampus van die Kaapse Skiereiland Universiteit vir Tegnologie. Volledige besonderhede asook die boustel-bestelvorm is beskikbaar op www.sarl.org.za. Klik op ‘RTA’.

Drie soorte boustelle word aangebied en sal op die dag van die RTA te koop wees. Slegs kontantbetalings asseblief. Boustelle kan ook vooraf bestel, via die internet betaal, en by die RTA ontvang word. Posbestellings is ongelukkig nie moontlik nie. Registrasiekoste vir die RTA beloop R50 wat ligte oggend- en etenstydverversings sal insluit.

Die drie boustelle is soos volg:

‘n DSSS-boustel 100 mw vir 40 m.
Twee Direkte-opvolg-spreispektrum-ontvangersenders (Direct Sequence Spread Spectrum, DSSS) wat in ‘n oop PCB-styl gebou word as ‘n leerervaring vir DSSS. Al die fases van elke sender en ontvanger kan nagespeur en getoets word met eenvoudige gereedskap wat in elke amateur se stasie voorkom. Die boustel met ‘n CD met die bou- en bedryfsinstruksies is, sonder kabels, te koop teen R350.

‘n TDR (Tyd-domein-reflektometrie) 1 GHz proef-ossiloskoop (“sampling scope”).
Dié boustel is doelmatig ontwerp vir TDR, maar kan ook vir ander aanwendings gebruik word. Dit is ‘n USB-gedrewe meganisme wat by ‘n rekenaarpoort ingeprop word. Dit gebruik ‘n Windows-program met ‘n voorstelling van ‘n normale ossiloskoop. Die boustel met ‘n CD wat die sagteware, bou- en bedryfsaanwysings bevat is, sonder kabels, te koop teen R350.

‘n DSP (Digitale seinprosessering) luidsprekerboustel.
Dit word gebruik met luidspreker-uitsette of enige ander toerusting om geraas te verminder of uit te skakel. Dit is ideaal vir HF-ontvangers. Dit is gebou in ‘n oop PCB-styl en is ideaal vir gebruik as ‘n DSP-leerervaring. Die boustel met ‘n CD wat bou- en bedrysaanwysings bevat is, sonder kabels, te koop teen R325.

Bykomende inligting oor die aanbiedings sal in volgende week se SARL-nuus verstrek word, of die volledige program kan by www.sarl.org.za afgelaai word. Klik op ‘RTA’ en volg die skakels.

DIE IARU SE INTERNASIONALE AMATEURRADIO-SATELLIETFORUM

Die IARU se internasionale amateurradio-satellietforum word hierdie jaar in samewerking met die AMSAT-VK Colloqium in Guildford, Engeland, gedurende die naweek van 31 Julie tot 1 Augustus gehou

Die forum, met Hans van de Groenendaal, ZS6AKV, die IARU se amateursatelliet- raadgewer as Voorsitter, vind die Sondagoggend plaas. ‘n Terugvoerverslag oor die werksaamhede van die IARU se satelliet-raadgewer en sy raadplegende paneel is ook op die agenda.

Daar sal voorts ‘n kort aanbieding wees oor die ITU se kennisgewingsvereistes vir die bedryf van satelliete in die amateurdiens - en die behoefte om uitsendings kort te knip - indien die seine inmeng met ander gebruikers van die radiospektrum.

Die forum is oop vir alle afgevaardigdes na die colloquium. Inligting kan bekom word by http://www.uk.amsat.org/colloquium/.

CUBESAT SOEK ‘N NAAM

Die kompetisie om ‘n naam aan die SAAMSAT-CubeSat-projek te gee wek internasionale belangstelling, met talle inskrywings vanuit oorsese lande. Tot dusvêr is nog nie ‘n enkele inskrywing uit Suid Afrika ontvang nie.

Is dit nie ironies dat oorsese amateurs groter belangstelling toon in die SAAMSAT-projek as plaaslike amateurs nie? Verkry inligting oor hoe om in te skryf by www.amsatsa.org.za.

DIE ARRL WAARSKU TEEN ‘n E-POS BEDROGSPUL

Die ARRL sê dat skelms poog om die ARRL se identiteit te gebruik om lede se vertroulike inligting te probeer bekom. Die ARRL waarsku sy lede om enige versoeke vir sodanige inligting, wat oënskynlik van die ARRL af kom, te ignoreer.

Amateur Radio Newsline se Bruce Tennent,K6PZW, berig soos volg:

DIE ARRL WAARSKU TEEN SKELMSTREKE

In ‘n berig op sy webblad berig die ARRL dat hulle talle klagtes ontvang het van lede wat “arrl.net” e-posrekenings het. Hierdie lede het aangedui dat hulle onlangs per e-pos genader is om hul vertroulike inligting, soos gebruikersname en skuilname te openbaar, asof die versoek vanaf die ARRL afkomstig is.

Die ARRL beklemtoon dat hierdie e-posboodskappe bedrieglike pogings ( of “phishing”) is om vertroulike inligting te probeer bekom en ook dat die oorsprong daarvan beslis nie die ARRL is nie. Vir dié wat nie weet nie, “phishing”, wat as “fishing” uitgespreek word, maar met ‘n “ph” gespel word, is waar ‘n ‘kuberskelm’ iemand anders se naam, e-pos of albei gebruik om u te oortuig om u vertroulike inligting aan hom/haar te stuur.

Volgens Barry Shelley, N1VXY, die ARRL se hoof finansiële beampte, sal die ARRL nooit per massa-e-pos gebruikersname en/of skuilname van “arrl.net” gebruikers aanvra nie.

BESPREKINGS VIR DIE PRETORIA PIC-KURSUS IS NOU OOP

Besprekings vir die PIC-kursus in Centurion op 14 Augustus kan nou gedoen word. Volledige inligting, sowel as die besprekingsvorm is beskikbaar by www.sarl.org.za. Klik op ‘RTA’ en volg die skakels. John Williscroft, ZS6EF, bied die vier uur lange kursus aan met behulp van verskeie oudiovisuele tegnieke. Na afloop van die kursus sal u met PIC-mikrobeheerders kan werk en programmeer vir ander projekte. Laat toe vir ‘n bykomende uur vir vraetyd en ‘n tyd vir verversings.

Die sluitingsdatum vir besprekings is 2 Augustus. Maak asseblief seker dat u inligting op die besprekingswebwerf voorkom, indien u reeds bespreek het, gaan na www.sarl.org.za, klik op ‘RTA’ en volg die skakels na die besprekingsblad.

As u inligting ontbreek, stuur ‘n e-pos aan rta@sarl.org.za. Geen ander bevestiging van bespreking word uitgestuur nie.

KOMPETISIENUUS

SARL Digitale Kompetisie. Die SARL se digitale kompetisie vind vanmiddag van 13:00 tot 16:00 UTC op 40 m sowel as op 2 m met gebruik van PSK plaas. Die kompetisie is oop vir alle radioamateurs in Suidelike Afrika.

‘n Seinverslag plus ’n QSO-nommer, beginnende met 001, word uitgeruil. Logstate moet gestuur word aan Die Lichtenburg ARK, Posbus 410, Lichtenburg, 2740, of per e-pos aan zs6lrk[punt]nwinternet[punt]za[punt]org. tot 12 Julie 2010.

IARU-HF-kampioenskap. Die jaarlikse IARU-HF-kampioenskap vind op 10 en 11 Julie plaas en vanjaar vind die WRTC ook oor daardie naweek plaas. Is daar ’n radioklub of klubs wat belangstel om ZS0HQ opspraak en GG gedurende die kompetisie te bedryf? Wat van ZS85SARL? Enige belangstellendes moet asb. vir Dennis, ZS4BS, per e-pos laat weet na zs4bs[by]netactive[punt]co[punt]za.

HF-VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP, rapporteer dat die sonaktiwiteitsvlak steeds laag is. Sonvlek 1 082 is die enigste teken van aktiwiteit op 'n andersins baie gematigde son. Die voorspelde effektiewe sonvlektelling vir die week gaan steeds minder as 10 wees.

20 m is die beste keuse vir DX gevolg deur 15 en 17 m. Gedurende die middae gaan die toestande na Indië goed wees. Gedurende laatmiddae en die aande gaan toestande na Europa belowend wees. Kontakte met Australië raak 'n moontlikheid gedurende sonsopkoms. Kontakte met die VSA kan uitdagend wees. Toestande na Brasilië en Suid-Amerika word tans belowend.

30 m kan vir die digitale en gelykgolf-entoesiaste baie rooskleurig wees met openings na verskeie dele van die wêreld.

Plaaslike toestande gaan gedurende die dag gunstig op 40 m wees. Met die winter hier het 30 m by 20 m oorgeneem vir kontakte oor die langer afstande gedurende die middel van die dag. Met die laer ruisvlakke is 80 m vroegoggend en laatmiddag die beste keuse, asook vir kontakte oor die korter afstande.

Saans is 80 m die beste keuse.

Besoek gerus www.spaceweather.co.za vir meer inligting.

DAGBOEK VAN GEBEURE

27 Junie – Vanmiddag, SARL se digitale kompetisie van 13:00 tot 16:00 UTC op 40 m sowel as op 2 m;
10/11 Julie - IARU-HF-kampioenskap en WRTC;
18 Julie - Integnet om 19:30 oor BHF-/UHF-/Mikrogolf-aangeleenthede;
23 - 24 Julie - Voorbereiding en lansering van die HABEX-balloneksperiment;
24 Julie - RTA-simposium in Kaapstad.

SARL-nuus nooi klubs en individue uit om nuusbrokkies van belang vir radioamateurs en kortgolfluisteraars in te stuur. Stuur dit - indien moontlik - in beide Engels en Afrikaans, na www.sarl.org.za/newsinbox.asp nie later as die Donderdag voor uitsending nie.

Die SARL nooi u ook om te luister na die program Amateurradio Mirror International wat om 10:00 SAT op 145,750 in die Pretoria-gebied uitgesaai word, met herleidings op 7 082, 7 205 en 17 860 kHz. Daar is ook 'n “podcast”-uitsending waarna geluister kan word. Vir oudiostrome en Echolink deur ZS6FCS, besoek www.sarl.org.za, klik op ‘ARMI’ en volg die skakels. 'n Heruitsending vind Maandagaande om 21:00 SAT op 3 215 kHz plaas. Sentech borg die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.

U het geluister na 'n bulletin wat deur Leon, ZS4V, saamgestel is en geredigeer is deur Jannie, ZR6PHD.

Dankie dat u saamgeluister het, 73.

/EX


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003